Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 14 JULIE 2013

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika. Die SARL saai elke Sondag om 08:15 SAT 'n nuusbulletin in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uit. Vir oudio gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

IN DIE NUUS VANDAG:
BESPREEK NOU VIR DIE PORT ELIZABETH RTA
NUWE TUISTE VIR SUNSPACE PERSONEEL
JOU VIDEO OOR AMATEURRADIO KAN GROOT PRYSE WEN

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante items.

BESPREEK NOU VIR DIE PORT ELIZABETH RTA

Vincent Harrison, ZS6BTY, sal fokus op antennas vir die gewilde 20, 17, 15, 12 en 10 m HF bande. Volgens hom sal hy konsentreer op die effek van die hoogte van ‘n antenna bo die grond en hoe dit die uitstralingspatroon beïnvloed.

Moenie hierdie aanbieding by die RTA simposiums misloop nie! Port Elizabeth sal hierdie jaar eerste aan die beurt kom en verder Kaapstad, Durban en Johannesburg insluit. Die Port Elizabeth RTA vind op 27 Julie by die die Nelson Mandela Metropolitan University plaas.

Registreer vooraf om te verseker dat jy die voordeel van laer tariewe en die versekering dat die CD, SGR boustel en multimeter vir jou met jou aankoms beskikbaar sal wees sal trek.

Volle besonderhede en die program is beskikbaar by www.sarl.org.za van waar jy ook die bestelvorm kan aflaai. Dit sal jou die keuse bied van wat jy graag wil bestel. Die CD bevat al die aanbiedings sowel as ander artikels, videos en sagteware en besonderhede omtrent die voltooiing van die boustel.

Indien jy graag die program en besprekingsvorm per e-pos wil ontvang kan jy ‘n e-pos stuur aan rta@sarl.org.za met PE RTA as die onderwerp.

Registrasie by die simposium is moontlik, maar daar is geen waarborg dat die genoemde items dan wel beskikbaar sal wees nie. Alle simposiumgangers sal deelneem aan die trekking waarin vyf multimeters en ander pryse op die spel is.

NUWE TUISTE VIR SUNSPACE PERSONEEL

SunSpace kry ‘n nuwe tuiste, wel ten minste die intellektuele eiendom en 80% van die personeel.

Die Minister van Wetenskap en Tegnologie, Derek Hanekom, het op 21 Mei 2013 tydens sy begrotingstoespraak ‘n uitkoms vir die kwynende maatskappy aangekondig. Hy het gesê dat die meerderheid van die Maatskappy se krediteure die Departement se se aanbod van R55 miljoen vir die intelektuele en vaste bates aanvaar het. Hierdie besluit is in ‘n besigheidreddingsplan, wat deur ‘n praktisyn wat deur die SunSpace Raad aangestel is, aanbeveel.

Die aanbod is gegrond op ‘n onafhankilike waardering van SunSpace se intellektuele en vaste bates en is in lyn met die Kabinet se besluit dat die satellietvervaardiger in die SA Nasionale Ruimteagentskap (SANRA) opgeneem word. SANRA het ‘n ooreenkoms met Denel Dynamics aangegaan ten opsigte van die huisvesting van SunSpace.

As deel van die proses is personeel van die Maatskappy werksgeleentheid by die nuwe besigheideenheid aangebied. Die meer as 80% van die personeel wat die aanbod aanvaar het verseker dat sleutelbevoegdhede behoue bly. Suid-Afrika behou so ook die kritiese plaaslik ontwikkelde bevoegdhede deur SunSpace.

SunSpace is die voortvloeisel van die Universiteit van Stellenbosch se SUNSAT projek, Suid-Afrika en Afrika se eerste satelliet wat op 23 Februarie 1999 vanaf die Vandenberg Lugmagbasis in Kaliforniee gelanseer is. SunSat is deur nagraadse studente en lektore ontwerp en gebou. Die groep het ook in ‘n rekordtyd SumbandilaSat vir die Departement van Wetenskap en Tegnologie gebou, maar dit het etlike jare geduur voordat dit gelanseer is. Beide SunSat en SumbandilaSat het amateurradiotoerusting as dravrag aan boord gehad.

Denel is geen nuweling wat betref ruimteverwante aangeleenthede nie. Die Maatskappy was tot in 1996 by die vorige program betrokke en het sy vermoëns, insluitende personeel en die Houwteq satelliettoetsterrein naby Grabouw, behou.
Uitvoerende groephoof van Denel, Mnr Riaz Saloojee, het gesê: "This opportunity will allow Denel to optimise the synergy between the SunSpace capabilities and its own capability for broader national technological benefit."

JOU VIDEO OOR AMATEURRADIO KAN GROOT PRYSE WEN

Die Suid-Afrikaanse “Amateur Radio Development Trust” nooi amateur videograwe uit om deel te neem aan 'n videokompetisie en so vir 'n paar groot pryse in aanmerking te kom. Wees kreatief met jou kamera of selfs jou slimfoon. Skiet 'n kort video van 'n opwindende Amateurradio-aktiwiteit in Suid-Afrika en wen 'n 5watt GG MFJ 40 meter stel ter waarde van R1300, of een van die vele ander pryse, die lys groei daagliks. Die videoformaat kan AVI, WMV of MPEG wees met 'n minimum resolusie van 320 x 240. Die lengte van die video behoort tussen 3 en 5 minute wees. Die onderwerp kan oor enigiets handel wat die vreugde en opwinding van amateurradio illustreer.

Inskrywings moet op 'n CD of DVD, en nie per e-pos nie, ingestuur word. Stuur jou video na: Amateurradio Videokompetisie, Posbus 90438, Garsfontein, 0042. Die sluitingsdatum is 31 Desember 2013. Die wenners sal vroeg in 2014 aangekondig word.

Vir meer besonderhede en die reëls besoek www.amateurradio.org.za

LIGANUUS

HET JY REEDS JOU SARL LIDMAATSKAP HERNU?
Indien jy nog nie jou lidmaatskap hernu het nie is dit nou die tyd om aan te sluit by die 884 wat dit reeds gedoen het. Ledegeld was op 1 Julie betaalbaar en fakture is gedurende Junie aan alle lede uitgestuur. Indien jy nie ‘n faktuur per pos of e-pos ontvang het nie kontak asseblief Maandag vir Mariska by 011 675 2393 sodat ‘n faktuur aan jou gestuur kan word.

KLUBNUUS

OOS-RAND RADIO TAK AJV
Kennisgewing van Oos-Rand Radio Tak se Algemene Jaarvergadering. Die Algemene Jaarvergadering sal plaasvind op die 30ste Augustus 2013 om 14H00 by die Klubhuis te Arrowe Park, Benoni.

KOMPETISIENUUS

SARL WINTER QRP
Die SARL Winter QRP kompetisie is bedoel om 'n pretgeleentheid te wees om QRP werking tussen radioamateurs in Suider-Afrika te bevorder. Die kompetisie vind plaas van 12:00 UTC tot 15:00 UTC op Saterdag 20 Julie 2013. Tuis- of veldstasies word aangemoedig om deel te neem met ESB, GG of gemengde werking met 5 watt (PEP) uitset of minder. 'n Stasie kan een keer per modus gekontak word.

Die eerste uur is beperk tot die 40 m band, die oorblywende twee uur is deelnemers vry om enige HF (nie-WARC) band te gebruik so hulle wil. Voldoen aan die kompetisie-voorkeur gedeeltes soos uiteengesit in die algemene reels. 'n RS of RST verslag en Ruitblok word uitgeruil. Oorweeg asseblief om realistiese RS of RST verslae uit te ruil. Gebruik asseblief die volle 6 karakter ruitblok. bv KG10xw.

Elke kontak tel 1 punt. Logs moet binne 7 dae na die kompetisie deur e-pos aan contest@sarl.org.za ingedien word. Lees al die reëls op bladsy 39 van die kompetisiehandboek.

AUGUSTUS IS CQ ZS MAAND
"Augustus is CQ ZS maand," sê Ward Silver, N0AX.

Die doel van die SARL HF Foon, Digitale en GG kompetisies is vir deelnemers om soveel moontlik radio amateurs in Suider-Afrika as moontlik op die 20, 40 en 80 m te kontak. Die foon kompetisie vind plaas op Sondag 4 Augustus, die Digitale kompetisie op 18 Augustus en die GG kompetisie op 25 Augustus, elke kompetisie strek van 13:00 tot 16:30 UTC elke Sondag.

Deelname kan wees as Enkeloperateur Enkelband, Enkeloperateur Allebande, Multi-operateur Enkelband of Multi-operateur Allebande. Individuele deelnemers en klub stasies word aangemoedig om deel te neem. 'n RS of RST verslag en 'n opeenvolgende reeksnommer wat by 001 begin word uitgeruil. ESB kontak tel 1 punt, PSK31/RTTY kontak tel 1 punt en GG kontakte tel 2 punte. Twee punte word verdien vir elke gebied gewerk per band en 'n verdere twee punte vir elke stasie gewerk op al drie bande.

Sertifikate word toegeken aan die eerste drie plekke en die hoogste enkele telling in elke kompetisie. Daar is ook 'n trofee vir die hoogste gesamentlike telling in al drie kompetisies. 'n Trofee word toegeken aan die GG deelnemer in sy of haar eerste jaar van GG met die hoogste telling. Kandidate vir hierdie trofee moet die datum van die uitreiking van die lisensie op die opsommingsblad neerskryf. Logs moet ingedien word teen 12 Augustus vir die Foon kompetisie, 26 Augustus vir die Digitale kompetisie en 2 September vir die GG kompetisie. Logs moet gestuur word aan zs4bfn@netactive.co.za. Lees die volledige reëls op bladsy 54 van die 2013-kompetisiehandboek.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak laag gaan wees. Die eens reusagtige Sonvlek AR1785 is besig om heen te gaan maar het nog steeds 'n beta-gamma-delta magnetiese veld en huisves genoeg energie vir X-klas sonfakkels. Dit is merkwaardig dat die sonvlek nooit tot 'n uitbarsting gekom het nie. Die verval proses kan egter die sonvlek se magneetveld versteur wat tot 'n sonfakkel kan lei.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 63.

Amateurs gaan al die DX-bande van 20 tot 10 m geniet met 20 m wat die beste openinge gaan oplewer terwyl die 15 m net 'n kortkop agter behoort te wees. 10 m openinge kan van tyd-tot-tyd oor Oos-Wes dagligpaaie voorkom.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.


DAGBOEK VAN GEBEURE

1 Julie – Hernuwingsdatum vir SARL Lidmaatskap
13-14 Julie – IARU HF kampioenskappe
19 Julie – Sluitingsdatum vir inskrywings RTA in Port Elizabeth
20 Julie – SARL Winter QRP Kompetisie
27 Julie – RTA in Port Elizabeth
3 - 4 Augustus - Hamnet Winteruitdaging
30 Augustus – Oos Rand Radion Tak AJV 14:00

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te dien. Plaas nuusberigte - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u om elke Sondagoggend om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-omgewing te luister na "Amateur Radio Today". Daar is herleidings op 7 082, 7 205 en 17 660 kHz en ook 'n potgooi deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op "Amateur Radio Today", gaan na die groen kolom en klik op 'Listen on the web'. 'n Heruitsending vind op Maandae om 16:30 UTC op 3 230 kHz plaas. Op die webwerf verskyn ook besonderhede aangaande verskeie ander heruitsendings. Ontvangsrapporte, kommentaar en voorstelle sal waardeer word. Stuur e-pos aan artoday@sarl.org.za.

Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga saamgestel en geredigeer deur Louis Kirstein, ZS1LK.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003